Wiggelary vs wetenskap in die aanwys van water

 
 


Wiggelary vs wetenskap in die aanwys van water


(Hierdie artikel het in die Republikein verskyn. Dit word hier gepubliseer met die toestemming van die outeur)
Otto van Vuuren

Om mee te begin moet ons eers identifiseer op watter maniere word “water gewys”. Ek sit die begrip tussen aanhalingstekens, omdat daar, wat my betref, nie iets is soos waterwys nie. Meeste mense het al op die een of ander manier te doen gehad met tradisionele waterwysmetodes, of ken iemand wat water wys. My ondervinding is dat daar amper ewe veel metodes is as wat daar mense is wat water wys.

Die bekendstes is sekerlik die gebruik van mikstokke en drade, maar die gebruik van waterbottels (op die handpalm of op die kop gedra), gewere, allerhande tipes kabels en tot selfone is nie ongewoon nie. ’n Baie groot persentasie van die boorgate wat in Namibië geboor is, is met een van hierdie vele metodes aangewys en daar is dikwels ’n “legende” op hierdie gebied in feitlik elke streek.

Dikwels kry ons ook dat boormanne self aanwysings doen. Sommige “waterwysers” roem daarop dat hulle die diepte waarop water gekry sal word voortydig kan aandui, asook hoe sterk so ’n water sal wees en hoeveel “kruis-are” daar is. Baie dikwels gaan sulke “waterwysery” gepaard met wat ek sommer reguit bygelowe noem, goed soos dat die persoon nie gesteur mag word terwyl hy water soek nie, of dat hy nie kan werk as hy “normaal” is nie, maar eers “opgewek moet word tot ’n meer sensitiewe staat”.

Maar werk dit regtig? As ons kyk na die hoeveelheid boorgate wat al suksesvol geboor is, moet daar seker iets in steek. Aan die ander kant, as ons kyk hoeveel onsuksesvolle gate op hierdie manier aangewys is, is ek glad nie oortuig dat dit regtig werk nie.

Ek is oortuig dat enige persoon wat met oop oë deur die lewe gaan en raaksien hoe die natuur reageer, kennis het van verskillende tipes gesteente en so ’n bietjie analities dink, die vermoë het om boorgate aan te wys. Per slot van sake, enige persoon het ’n 50% kans om ’n suksesvolle boorgat aan te wys, of dan om “suksesvol water te wys”.

Daar is, sover my kennis strek, nog geen wetenskaplike verklaring waarom sekere mense hierdie vermoë het om “water te wys” en ander nie. Ook nie waarop die metode wat gebruik word reageer nie. Vir die kritikus van hierdie tradisionele metodes is een van die argumente daarteen waarom ’n mikstok, ’n bottel water, ’n draad (party glo net aan koperdraad, terwyl ander net aan staaldraad glo) of ’n geweer – alles items wat niks in gemeen het nie – juis op water reageer.

Van die Engelse terme wat gebruik word om hierdie aktiwiteit te beskryf is onder andere “water dowsing” (water wiggelary) en “water witching” (water toordery). Daar bestaan ellelange lyste van literatuurverwysings na eksperimente en toetse (onder gekontroleerde toestande) wat gedoen is om te bepaal of “waterwysers” werklik “abnormale magte” het en of hulle maar net op geluk werk.

Meeste daarvan dui maar op geluk. Ek het egter ook op “verklarings” afgekom van ene Hans-Dieter Betz, ’n fisikus aan die Universiteit van München, wat ek nogal amusant gevind het, veral omdat die “uiters suksesvolle waterwyser” wat hy meestal gebruik om die metode te verdedig, aan my bekend is. Hy maak spesifieke vermelding van ’n boorgat in Namibië wat 100 m diep is wat ene Schröter suksesvol aangewys het slegs 2 m weg van die aanvanklike droë boorgat.

Ek was in die bevoorregte posisie om mnr. Schröter in 1992 te ontmoet toe hy in Namibië aangekom het en hom na die noorde te vat waar ons besig was met ’n boorprojek. Ons eerste stop was Namutoni, waar Schröter sy drade uitgehaal het en nadat ek ’n boorstelling deur middel van geofisiese werk aangewys het, my verseker het ek is “van die aar af” en dat die boorgat droog sal wees tensy ek die boorstelling ’n paar meter skuif.

Ek moet bieg dat ek heelwat meer kennis van die gebied gehad het en uit bestaande inligting geweet het dat grondwater daar voorkom onder artesiese toestande! Nodeloos om te sê, die “droë” boorgat het water gehad. Ons tweede stop was noord van Oshivelo waar die grondwater diep, maar redelik wydverspreid in die Kalaharisedimente voorkom.

Weer eens het ek die onregverdige voordeel gehad om te weet die water kom wydverspreid in die sedimente voor en nie in sekondêre fraktuur akwifere nie. Schröter was weer verkeerd in sy waarneming. Hy het terloops ook baie van die geohidroloë wat by Waterwese gewerk het “getoets” vir hul vermoë om “dowsing” te doen, maar die oordeel oor meeste (ek inkluis) was dat ons, in sy woorde, ’n “mental resistance” gehad het.

Ek het daarna nie weer saam met Schröter gewerk nie, maar ek weet dat hy heelwat boorgate veral in die suide afgesteek het, met niks meer sukses as die wetenskaplikes en ook dat hy baie graag gesê het ’n boorgat is skeef geboor as dit droog was! Teenoor “water toordery” staan die ander manier om grondwater voorkomste te identifiseer, naamlik deur middel van wetenskaplike tegnieke.

Die feit dat dit wetenskaplik gedoen word, is egter geen waarborg op sukses nie en ongelukkig het meeste mense ’n onrealistiese hoë verwagting daarvan. Alle wetenskaplike tegnieke is gebaseer op die waarneming en meet van een of meer fisiese eienskappe van die geologiese omgewing.

Die mees algemene eienskappe wat gemeet word is geleiding, weerstand en magnetisme. In terme van grondwater voorkomste sal waterdraende gesteentes oor die algemeen byvoorbeeld hoër geleiding en laer weerstand hê as dieselfde gesteente tipe wat nie-waterdraend is. Ongelukkig kan dieselfde fisiese reaksie ook waargeneem word as gevolg van verskeie ander faktore.

So kan ’n droë breuk wat gemineraliseer is deur byvoorbeeld ysteroksiede, feitlik dieselfde geofisiese “handtekening” as ’n waterdraende breuk gee ten opsigte van geleiding of weerstand. Omdat meeste van die tegnieke berus op die aanwending van eksterne faktore soos elektriese stroom, kan menslike foute maklik insluip in die proses.

Wanneer byvoorbeeld in gebiede met hoë kontakweerstande elektriese weerstandswerk gedoen word, moet die stroomsterkte wat deur die grond gestuur word hoog genoeg wees om die weerstand te oorkom, anders gaan die geofisiese werk betekenisloos wees. Net so sal geleidingstegnieke nutteloos wees waar byvoorbeeld dik kleilae of soutwater is, omdat die elektriese stroomwaarvan die geleiding gemeet word eenvoudig deur sulke lae gelei sal word en dus beperk word tot daardie lae.

Daar is ’n tegniek ontwikkel, die sogenaamde “nuclear magnetic resonance (NMR) soundings”, wat in leketaal op die waterstof atoom reageer en skynbaar baie akkuraat is in die identifisering van grondwatervoorkomste as dit onder die regte toestande gebruik word.

Die wetenskaplike metode wat gebruik word is slegs een van die gereedskapstukke in die geohidroloog se arsenaal. As dit in isolasie gebruik word, met ander woorde, dit is die enigste inligting wat gebruik word, is dit wat my betref niks beter as “water toordery” nie.

Die inligting wat deur middel van die geofisiese opname versamel word, moet in konteks met die geologiese omgewing, die geomorfologie, die plantegroei en verskeie ander faktore gesien word.

Wanneer dit gedoen word, verhoog dit doodeenvoudig die kans op sukses en word die 50% kans wat enige persoon het om ’n suksesvolle boorgat aan te wys, ’n 75% of 80% en hoër kans op sukses, maar dit bly steeds nie onfeilbaar nie.

 

Otto van Vuuren lewer geïntegreerde geohidrologiese en ander water-verwante dienste onder die naam Dynamic Water Resources Management. Met 20 jaar ondervinding in die grondwater sektor in Namibië, bied Dynamic Water Resources Management aan kliënte die volgende dienste:

Grondwater ondersoeke en eksplorasie
• Identifisering van potensiële grondwater bronne vir ontwikkeling.
• Ontsluiting van grondwater bronne.
• Kwantifisering van grondwater reserwes.
• Boorgat rehabilitasie.
• Aanbevelings in terme van volhoubare grondwater ontwikkeling.

Grondwater besoedeling studies
• Identifisering van potensiële besoedelings bronne.
• Aanbevelings in terme van remediërende stappe.

Water bronne bestuur
• Evaluering van bestaande water bronne bestuurs praktyke.
• Aanbevelings vir geïntegreerde bestuurs praktyke, insluitend die rol van sanitasie, in terme van volhoubare gebruik van water bronne.
• Evaluering van die rol van grondwater in die omgewing, spesifiek met betrekking tot Omgewings Impak Studies.
• Ontwikkeling en saamstelling van water bronne bestuurstplanne.

Dynamic Water Resources Management strewe in alles om aan God die eer te bring en bied aan alle kliënte ’n eerlike diens, waar die belang van grondwater eerste gestel word in ooreenstemming met ons God-gegewe opdrag om oor Sy skepping te heers.

Vir verdere inligting kontak Otto van Vuuren by grondwater@ gmail.com

TERUG