Só besluit geohidroloog waar om boorgat te sink

 
 


Só besluit geohidroloog waar om boorgat te sink


(Hierdie artikel het in die Republikein verskyn. Dit word hier gepubliseer met die toestemming van die outeur)
Otto van Vuuren

ONS het in die vorige artikel gekyk na wie grondwater-eksplorasie doen en wat die waarde kan wees wat toegevoeg word indien ‘n professionele persoon die eksplorasie doen. Nou gaan ons bietjie verder en kyk na wat so ‘n eksplorasieprogram in breë trekke behels.

Alhoewel die doel van die grondwater-ontwikkeling wat beplan word, hetsy ‘n enkele boorgat vir veesuiping, of ‘n hele klomp boorgate vir grootmaat watervoorsiening, in ‘n groot mate gaan bepaal: hoe soek ‘n mens vir water?

Eerstehandse inligting oor die presiese doel van die ontwikkeling, die hoeveelheid water wat benodig word en waar dit benodig word, asook die terreinuitleg is belangrik vir die geohidroloog om sy eksplorasieprogram te beplan.

Wanneer hierdie inligting beskikbaar is, gaan die professionele geohidroloog soveel moontlik inligting rakende die geologie en geohidrologie van die algemene omgewing insamel en evalueer. Hierdie inligting word verkry vanaf databasisse (heelwat boorgat- asook geologiese inligting is so beskikbaar), kaarte en verslae van vorige ondersoeke – beide geologies en geohidrologies.

Van die insiggewende en baie bruikbare inligting van bestaande boorgate is onder meer die diepte waarop water gevind is, die boorgatlewering en ruswatervlak asook die geologiese profiel van ‘n boorgat, terwyl daar baie maal ook waterkwaliteit inligting beskikbaar is.

Tot op hierdie punt is meeste van die inligting wat versamel word verwant aan individuele aspekte van die eksplorasieprogram, met ander woorde dit vertel vir die geohidroloog iets van byvoorbeeld die waterkwaliteit, óf die omgewing se watervlak, óf die dominate geologie. Die volgende stap is gewoonlik afstandswaarneming (remote sensing).

In hierdie fase word geologiese en geohidrologiee kaarte, lugfoto’s en satellietfoto’s bestudeer om die bes moontlike teikengebiede in terme van geohidrologie en geologie (soos kontakte tussen verskillende gesteente tipes asook geologiese strukture soos verskuiwings) te identifiseer.

Die verhouding/verwantskap tussen bestaande boorgate en hierdie teikengebiede word vasgestel en sodoende kan dele binne die teikengebiede wat beter potensiaal vir grondwater ontwikkeling het, meer akkuraat bepaal en weerspieël word.

Die geohidroloog gebruik nou al hierdie inligting om ‘n konseptuele model te vorm wat vir hom ‘n geheelprentjie van die ondersoekgebied skets, asook wat die moontlike struikelblokke kan wees en na watter faktore daar spesifiek opgelet moet word.

Hierdie konseptuele model gee ‘n eerste aanduiding van wat om op die grond te verwag, en soos meer inligting beskikbaar raak, word hierdie model aangepas om dit meer akkuraat te maak.

Wanneer die konseptuele model gevorm is, besluit die geohidroloog watter ondersoekmetode die geskikste sal wees en die beste resultate sal lewer. Indien die mees geskikte geofisiese toerusting nie beskikbaar is nie, moet die geohidroloog op die mees toepaslike en beskikbare plaasvervanger besluit.

Die volgende fase in die eksplorasieprogram is om die inligting wat versamel is, asook die konseptuele model, in die veld en op die grond te gaan evalueer, bevestig en aanpas indien nodig.

Deur van óf ‘n geofisiese metode, óf ‘n kombinasie van verskeie geofisiese metodes, óf van suiwer geologiese waarneming gebruik te maak, bepaal die geohidroloog dan die punte op die grond waar hy van mening is boorgate gesink kan word wat die beste potensiaal sal hê om in die behoeftes van die gevraagde grondwaterontwikkeling te voorsien.

Hiermee saam sal die geohidroloog ‘n aanduiding kan gee van die verwagte diepte waarop water gevind kan word, asook wat sy oordeel is ten opsigte van die grondwaterpotensiaal. Vir die meeste boorgateienaars en grondwaterverbruikers eindig hul “ver- houding” met die geohidroloog ongelukkig hier.

Die volgende stappe moet wees om behoorlike toesig te hou oor die boorwerk en die gepaardgaande inligting wat versamel moet word, om ‘n behoorlike boorgatontwerp en -konstruksie te doen, om die boorgat reg te toets om sodoende ‘n aanduiding te kry van die volhoubare onttrekkingstempo’s en dan ‘n gepaste bedryfstrategie aan te beveel, en ook om watermonsters te neem en te laat ontleed vir chemiese en/ of biologiese waterkwaliteitsanalise.

Wanneer al hierdie aspekte van geohidrologiese eksplorasie afgehandel is, kan die geohidroloog ‘n weldeurdagte bestuursplan vir die verbruiker op die tafel sit. Dit is dus duidelik dat in meeste gevalle waar wel van ‘n geohidroloog se dienste gebruik gemaak word, dit slegs in die heel eerste fase van grondwater ontwikkeling geskied.

In aansluiting by die vorige artikel, vertrou ek dat elkeen wat ‘n grondwaterbron wil ontwikkel, vir watter doel ook al, sal besef dat daar baie meer in en aan die ontwikkeling van so ‘n bron is as doodeenvoudig die “afsteek van ‘n boorgat”. Die waarde van ‘n deeglike studie, goed beplande eksplorasie en kennis wat die geohidroloog kan toevoeg, mag nie gering geskat word nie.

Te dikwels het ek al gehoor dat baie boorgate geboor en baie geld spandeer is voordat die hulp en kennis van ‘n geohidroloog ingeroep word. Hiermee wil ek vir geen oomblik sê dat die dienste van die geohidroloog onfeilbare resultate gaan lewer nie, maar wel dat die potensiaal om ‘n grondwaterbron suksesvol te ontwikkel net soveel groter is.

 

 

Otto van Vuuren lewer geïntegreerde geohidrologiese en ander water-verwante dienste onder die naam Dynamic Water Resources Management. Met 20 jaar ondervinding in die grondwater sektor in Namibië, bied Dynamic Water Resources Management aan kliënte die volgende dienste:

Grondwater ondersoeke en eksplorasie
• Identifisering van potensiële grondwater bronne vir ontwikkeling.
• Ontsluiting van grondwater bronne.
• Kwantifisering van grondwater reserwes.
• Boorgat rehabilitasie.
• Aanbevelings in terme van volhoubare grondwater ontwikkeling.

Grondwater besoedeling studies
• Identifisering van potensiële besoedelings bronne.
• Aanbevelings in terme van remediërende stappe.

Water bronne bestuur
• Evaluering van bestaande water bronne bestuurs praktyke.
• Aanbevelings vir geïntegreerde bestuurs praktyke, insluitend die rol van sanitasie, in terme van volhoubare gebruik van water bronne.
• Evaluering van die rol van grondwater in die omgewing, spesifiek met betrekking tot Omgewings Impak Studies.
• Ontwikkeling en saamstelling van water bronne bestuurstplanne.

Dynamic Water Resources Management strewe in alles om aan God die eer te bring en bied aan alle kliënte ’n eerlike diens, waar die belang van grondwater eerste gestel word in ooreenstemming met ons God-gegewe opdrag om oor Sy skepping te heers.

Vir verdere inligting kontak Otto van Vuuren by grondwater@ gmail.com

TERUG