Boorgat pompe

Die gat is geboor en dit is mooi vertikaal en gevoering. Nou moet dit
natuurlik van 'n pomp voorsien word om die water bogronds te kry. Daar is
verskillende aspekte wat in gedagte gehou moet word wanneer 'n mens 'n
spesifieke soort pomp kies. Hieronder is 'n kort lys van die mees algemene
pompe wat gebruik word en hulle toepassings. Dit is beslis nie 'n volledige
lys nie. Skakel gerust vir Herman 0825773082 vir verdere inligting

Handpompe
'n Handpomp is sekerlik die oudste tipe pomp wat bestaan. Dit word veral
gebruik vir drinkwater in afgeleë gebiede en waar daar min water is. Heelwat
van hierdie pompe word tans deur internasionale organisasies in die droë
dele van Afrika geïnstalleer.

Windpompe
Die windpomp word veral op plase gebruik. Behalwe vir die oprigting van die
windpomp, is daar geen noemenswaardige bedryfskoste aan 'n windpomp verbonde
nie. Dit moet natuurlik ook voorsien wees van opgaartenks of 'n dam waarin
die water vir latere gebruik gestoor kan word. Dit is geskik vir boorgate
wat 'n lae waterleweringstempo het. Toepassings is veral water vir
huishoudelike gebruik, veesuipings en leivoorbesproeiing.

Monopompe
Monopompe word algemeen gebruik om water teen 'n hoë druk en groot
hoeveelhede te verskaf. Dit is 'n tipe positiewe verplasingspomp (
<http://en.wikipedia.org/wiki/Pump> http://en.wikipedia.org/wiki/Pump) met
'n spiraal wurm (rotor) wat binne in 'n buis (die stator) draai. Die water
word deur die ruimte tussen die rotor en die stator geforseer. Hierdie tipe
pompe is uitermate doeltreffend en kan vir direkte besproeiing aangewend
word. Die pomp word met 'n elektriese motor of 'n diesel- of petrolenjin
aangedryf.

Dompelpompe
'n Dompelpomp is 'n multistadium sentrifugale pomp (
<http://af.wikipedia.org/wiki/Sentrifugale_pomp>
http://af.wikipedia.org/wiki/Sentrifugale_pomp) waar sowel die pomp as sy
aandrywingsmotor onder in die boorgat geplaas word. Dompelpompe is elektries
aangedrewe en die motor sowel as sy elektriese koppelings is hermeties
verseël sodat dit nie deur die water beskadig kan word of elektriese
kortsluitings kan ontstaan nie.

Die dompelpomp is die tans die mees populêrste pomp en is baie effektief met
betrekking tot kragverbruik. Dit is maklik installeerbaar en het bykans geen
onderhoud nodig nie. Die pomp kan water tot op enige gewenste hoogte pomp
binne die vermoeë wat deur die aandrywing gespesifiseer word en wat deur die
waterleiding toegelaat woord. Dit kan water vir huishoudelike sowel as
intensiewe besproeiing lewer. Die gemiddelde pompe lewer ongeveer 100
kubieke meter water per uur.

Turbine pompe
'n Turbine pomp is 'n multistadium sentrifugale pomp wat met 'n dryfas aan
'n motor bokant die boorgat verbind is. Die dryfas loop binne in 'n pyp wat
die motor met die pomp onder in die boorgat verbind. Die water word in die
pyp opgepomp en verlaat die stelsel aan die onderkant van die motor. Turbine
pompe kan met 'n elektriese motor of met diesel- of petrolenjins aangedryf
word. Dit word algemeen op plase gebruik waar hoë kapasiteit water benodig
word of waar daar geen elektriese krag beskikbaar is nie.

Sonkrag pompe
Sonkragpompe (solar pumps) is dompelpompe wat deur sonkrag aangedryf word.
Dit bied dieselfde waterlewering as 'n windpomp en moet saam met 'n
opgaartenk of 'n dam gebruik word. Dit is ideaal vir afgeleë gebiede en die
toepassings is dieselfde as vir die windpomp.



Indien u meer inligting in verband met boorgatpompe wil bekom, kan u Fred
Labuschagne by Temba Pompe skakel.
Telefoonnommer: 012 562 0539 of 082 448 0153.


Enige vrae?

Hier is antwoorde op veelgestelde vrae

VRAE

Ons boor so diep as wat die kliënt ons toelaat om te boor. Die diepste gat wat ons geboor het was 426 meter. Die diepte van die gat kan ook beperk word
agv te veel water.

Ons wys nie self water aan nie. Dit is raadsaam om reeds die plek waar die gat geboor moet word te bepaal voordat u die boorman skakel. Die kliënt is verantwoordelik om die plek waar aangewys is toeganklik te maak vir die boor en die kompressor.

Ja. Alle formasies se prys is dieselfde bv rooigraniet, sandsteen, feltsiet, diabaas ens. Slytende kwartsiet en modder word egter teen 'n hoër tarief geboor.

Die standaard grootte van 'n boorgat wissel tussen 160 mm tot 170 mm (indien 'n boorgat diep in die rotsformasie inkalwe, kan kleiner voering nog geïnstalleer word). Ons boor ook gate van 216 mm en installeer voering van 172 mm.

Fred Labuschagne van Tempa Pompe toets ons boorgate.

Een tot twee dae afhangende van die diepte wat geboor word en die tipe formasie.

Ja. Fred Labuschagne (sien elders op hierdie webwerf) sal vir u ook die korrekte spesifikasies vir u pomp aandui.

Kontak ons gerus!