Boorgatpompe

 
 

 

Die gat is geboor en dit is mooi vertikaal en gevoering. Nou moet dit natuurlik van ‘n pomp voorsien word om die water bogronds te kry. Daar is verskillende aspekte wat in gedagte gehou moet word wanneer ‘n mens ‘n spesifieke soort pomp kies. Hieronder is ‘n kort lys van die mees algemene pompe wat gebruik word en hulle toepassings. Dit is beslis nie ‘n volledige lys nie. Skakel gerus vir Fred Labuschagne van Temba Pompe by 012 5620539 of 082 4480153 om u spesifieke behoeftes te bespreek. Temba Pompe verskaf 'n wye reeks van pompe vir alle tipe toepassings.

Handpompe

‘n Handpomp is sekerlik die oudste tipe pomp wat bestaan. Dit word veral gebruik vir drinkwater in afgeleë gebiede en waar daar min water is. Heelwat van hierdie pompe word  tans deur internasionale organisasies in die droë dele van Afrika geïnstalleer.

Windpompe

Die windpomp word veral op plase gebruik. Behalwe vir die oprigting van die windpomp, is daar geen noemenswaardige bedryfskoste aan ‘n windpomp verbonde nie. Dit moet natuurlik ook voorsien wees van opgaartenks of ‘n dam waarin die water vir latere gebruik gestoor kan word. Dit is geskik vir boorgate wat ‘n lae waterleweringstempo het. Toepassings is veral water vir huishoudelike gebruik, veesuipings en leivoorbesproeiing.

Monopompe

Monopompe word algemeen gebruik om water teen ‘n hoë druk en groot hoeveelhede te verskaf. Dit is ‘n tipe positiewe verplasingspomp (http://en.wikipedia.org/wiki/Pump) met ‘n spiraal wurm (rotor) wat binne in ‘n buis (die stator) draai. Die water word deur die ruimte tussen die rotor en die stator geforseer. Hierdie tipe pompe is uitermate doeltreffend en kan vir direkte besproeiing aangewend word. Die pomp word met ‘n elektriese motor of ‘n diesel- of petrolenjin aangedryf.

Dompelpompe

‘n Dompelpomp is ‘n multistadium sentrifugale pomp (http://af.wikipedia.org/wiki/Sentrifugale_pomp)  waar sowel die pomp as sy aandrywingsmotor onder in die boorgat geplaas word. Dompelpompe is elektries aangedrewe en die motor sowel as sy elektriese koppelings is hermeties verseël sodat dit nie deur die water beskadig kan word of elektriese kortsluitings kan ontstaan nie.

Die dompelpomp is die tans die mees populêrste pomp en is baie effektief met betrekking tot kragverbruik. Dit is maklik installeerbaar en het bykans geen onderhoud nodig nie. Die pomp kan water tot op enige gewenste hoogte pomp binne die vermoeë wat deur die aandrywing gespesifiseer word en wat deur die waterleiding toegelaat woord. Dit kan water vir huishoudelike sowel as intensiewe besproeiing lewer. Die gemiddelde pompe lewer ongeveer 100 kubieke meter water per uur.

Turbine pompe

‘n Turbine pomp is ‘n multistadium sentrifugale pomp wat met ‘n dryfas aan ‘n motor bokant die boorgat verbind is. Die dryfas loop binne in ‘n pyp wat die motor met die pomp onder in die boorgat verbind. Die water word in die pyp opgepomp en verlaat die stelsel aan die onderkant van die motor. Turbine pompe kan met ‘n elektriese motor of met diesel- of petrolenjins aangedryf word. Dit word algemeen op plase gebruik waar hoë kapasiteit water benodig word of waar daar geen elektriese krag beskikbaar is nie.

Sonkrag pompe

Sonkragpompe (solar pumps) is dompelpompe wat deur sonkrag aangedryf word. Dit bied dieselfde waterlewering as ‘n windpomp en moet saam met ‘n opgaartenk of ‘n dam gebruik word. Dit is ideaal vir afgeleë gebiede  en die toepassings is dieselfde as vir die windpomp.

 

Indien u meer inligting in verband met boorgatpompe wil bekom, kan u Fred Labuschagne by Temba Pompe skakel.
Telefoonnommer:012 5620539

of 082 4480153.