Só soek jy water

 
 


Só soek jy water

(Hierdie artikel het in die Republikein verskyn. Dit word hier gepubliseer met die toestemming van die outeur)
Otto van Vuuren

SOOS almal teen hierdie tyd weet, is grondwater daardie onsigbare komponent van die hidrologiese siklus wat in die versadigde sone onder die grondoppervlak voorkom. Om hierdie bron op te spoor en toegang daartoe te verkry, is een of ander vorm van eksplorasie nodig, maar ek wil dit reg van die begin af onomwonde stel dat daar geen onfeilbare metode is wat “water wys” nie.

Sukses hang eerder af van die deeglikheid en eerlikheid waarmee alle beskikbare inligting geëvalueer word. Om verskeie redes, waaronder lojaliteit teenoor vriende of kennisse, onkunde en wantroue in die wetenskap as gevolg van enkele slegte ervarings van wetenskaplike tegnieke, verkies die oorgrote meerderheid van grondwaterverbruikers steeds om eksplorasie, of dalk eerder die aanwys van boorgate, deur onprofessionele “waterwysers”, of stokkieswysers soos in die spreektaal genoem, te laat doen.

Ek gaan nie die meriete hiervan bespreek nie, maar eerder wys op die waarde wat ‘n professionele geohidroloog kan toevoeg tot die ontsluiting en bestuur van grondwaterbronne deur ‘n behoorlike tafelstudie en eksplorasieprogram.

‘n Professionele geohidroloog is ‘n persoon wat opleiding ontvang het op verskeie vakgebiede, soos onder meer geologie, hidrologie, wiskunde, fisika en chemie, en dan veral in terme van die verwantskap van hierdie vakgebiede met grondwater, d.w.s. geohidrologie, geofisika en geochemie, met die wiskundige aspekte veral ten opsigte van grondwater se vloeidinamika.

Die geohidroloog moet ‘n professionele integriteit handhaaf, met etiese verantwoordelikhede ten opsigte van eerlikheid in die evaluering van grondwater ondersoeke en verwante probleme. Alle eksplorasieprogramme het die primêre doel om boorgatstellings aan te wys, boorgate te sink en daardeur die grondwaterbron toeganklik te maak en te ontwikkel tot ekonomiese voordeel van die verbruiker.

Wie ook al die boorstellings aanwys en die bron gaan ontwikkel, moet die volgende bepaal:

• Die potensiële grondwater beskikbaarheid en –kwaliteit, d.w.s. of daar genoeg grondwater van voldoende kwaliteit gaan wees om in die behoefte te voorsien, en die koste van ontwikkeling.

• Die hoeveelheid boorgate wat benodig gaan word om die grondwaterbron optimaal te benut.

• Die plasing van die boorgate binne die akwifeer en in verhouding tot mekaar.

• Die volume grondwater wat volhoubaar onttrek kan word.

• Die potensiële impak van die grondwater-onttrekking op die grondwater-omgewing. Wanneer hierdie aspekte gedefinieer en gedoen is, moet aanbevelings gedoen word rakende beskerming van die grondwaterbron. Dit mag insluit om aktiwiteite te identifiseer wat ‘n bedreiging vir die grondwater is (bv. die plasing van krale of rioolstelsels) en ooronttrekking.

Die goue reël is dat dit makliker is om probleme wat die akwifeer sal verswak te voorkom as om later die gevolge daarvan reg te stel. Vir die meeste mense begin en eindig die hele eksplorasieproses ongelukkig by die plasing van boorgate, en daar is weinig belangstelling om die ander aspekte te definieer en antwoorde te kry.

Die geohidroloog is die persoon wat die kennis het om al hierdie los drade bymekaar te bring en saam te vat om dit vir die verbruiker moontlik te maak om die grondwaterbron optimaal te benut en reg te bestuur. In die verlede het die geohidroloog potensiële ondersoekgebiede vanaf lugfoto’s, topografiese kaarte en satellietfoto’s geïdentifiseer, en dan baie dae in die veld deurgebring om die gebiede te kry, al die inligting te versamel, op die grond te evalueer en dit dan met geologiese kennis en geofisiese tegnieke te bevestig.

Baie tyd is dus spandeer om al die legstukke inmekaar te pas om die groter prentjie te kan sien. Al hierdie aspekte van eksplorasie is vandag nog ewe geldig en belangrik, maar met die tegnologiese ontwikkeling is dit net soveel makliker en baie tyd word bespaar.

Dit is ongelukkig so dat van die geohidroloë in hierdie “tegnologiese revolusie” die belangrikheid van deeglike veldevaluasie misken, en glo dat hulle nie meer nodig het om behoorlike veldwerk te doen nie omdat baie van die werk in die gerief van ‘n lugverkoelde kantoor op die rekenaar gedoen kan word.

Persoonlik het ek ‘n hekel daaraan en diesulkes dra na my mening daartoe by om wantroue in die aardwetenskap by die publiek te kweek. Met ‘n deeglike tafelstudie, waar al die beskikbare inligting geëvalueer word, tesame met afstandswaarneming en die hulp van databasisse en rekenaars, kan die geohidroloog wel vandag in die kantoor sit en teikengebiede baie akkuraat identifiseer.

Hierdie inligting moet egter steeds op die grond bevestig en geëvalueer word. Waarnemings van die natuurlike omgewing soos boomlyne, verandering in plantegroei en topografie, asook dieregedrag, dra saam met geologiese en geofisiese werk by om die geheel te verstaan. As hierdie inligting saam gebruik word, verhoog dit die kanse op suksesvolle boorgate net soveel meer.

Die omgewing sal in ’n groot mate bepaal watter geofisiese tegnieke en metodes suksesvol gebruik kan word om vir grondwater te eksploreer. Die mees algemene metodes sluit in elektriese weerstand, elektromagneties en magneties. Daar is geweldig baie faktore wat enige geofisiese opname kan beïnvloed, soos die teenwoordigheid van hoëspanning kragdrade, heinings en elektriese motors en dit kan veroorsaak dat die resultate nie die werklike geologiese gedrag verteenwoordig nie.

Die oordeel van die geohidroloog is dus uiters belangrik om “feite van fiksie te onderskei”. Kom ons kyk kortliks na die basiese beginsels van hierdie drie geofisiese eksplorasiemetodes. Met die elektriese weerstandsmetode word elektriese stroom fisies in die grond gestuur, die potensiaalverskil word gemeet en die weerstand van die geologiese omgewing word bepaal.

Daar is twee tegnieke wat gebruik word, naamlik vertikale sonderings en horisontale profiele. Sonderings word gebruik waar gesteentes horisontaal gelaagd voorkom, en die diepte van lae met verskillende weerstande kan bepaal word.

Met profiele word die gesteentes se weerstand horisontaal op dieselfde diepte gemeet, en die tegniek is goed om vertikale of subvertikale kontakte tussen verskillende gesteente tipes, asook verskuiwings en frakture op te spoor. Hierdie metode is baie tydrowend, maar is seker die algemeenste in grondwater-eksplorasie.

Die elektromagnetiese metode is ’n relatief vinnige metode om toe te pas, en is gebaseer op die verhouding in die verval van primêre en sekondêre magneetvelde, wat opgewek word deur elektriese stroom tussen ontvanger- en sender spoele te stuur. In effek word die geleiding van die elektriese stroom deur die gesteentes gemeet, en die metode is dus baie toepaslik om verskuiwings en frakture op te spoor.

Dit word dikwels gebruik as “verkenningsmetode” wat die elektriese weerstandsmetode voorafgaan. Met die magnetiese metode word die sterkte van die magneetveld binne gesteentes gemeet. Die metode is ook relatief vinnig om te doen en baie toepaslik om kontakte tussen (magnetiese) gesteentes op te spoor, maar is ook goed om verskuiwings en frakture op te spoor waarbinne bv. yster neergeslaan het.

In gesteentes wat makliker die vloei van grondwater deurlaat, is yster-oksidasie baie algemeen, en maak dit dus die magnetiese metode baie toepaslik in grondwater-eksplorasie. Evaluering van die geofisiese data, saam met al die ander inligting, sal vir die geohidroloog ’n goeie idee gee van die potensiaal om ’n suksesvolle boorgat te sink wat in die waterbehoefte van die verbruiker sal kan voorsien.

Boonop sal hierdie geïntegreerde evaluering van al die beskikbare inligting dit moontlik maak om potensiële gevare en probleme te identifiseer, vroegtydig riglyne te gee hoe om dit te voorkom en sal dit dus die verbruiker in staat stel om ingeligte besluite te neem ten opsigte van die bestuur van die grondwater-bron.

Om dus net iemand te kry wat ‘n “boorgat kan afsteek” is nie in die beste belang van grondwater nie. Weliswaar is dit ’n groter finansiële uitgawe om ’n professionele persoon te kry wat insette kan lewer in al die aspekte van die ontwikkeling van ’n grondwater-bron, maar die waarde wat daardeur toegevoeg word, sal veel groter wees as die dollar-waarde wat gespaar word deur van ’n nie-professionele persoon gebruik te maak.

 

Otto van Vuuren lewer geïntegreerde geohidrologiese en ander water-verwante dienste onder die naam Dynamic Water Resources Management. Met 20 jaar ondervinding in die grondwater sektor in Namibië, bied Dynamic Water Resources Management aan kliënte die volgende dienste:

Grondwater ondersoeke en eksplorasie
• Identifisering van potensiële grondwater bronne vir ontwikkeling.
• Ontsluiting van grondwater bronne.
• Kwantifisering van grondwater reserwes.
• Boorgat rehabilitasie.
• Aanbevelings in terme van volhoubare grondwater ontwikkeling.

Grondwater besoedeling studies
• Identifisering van potensiële besoedelings bronne.
• Aanbevelings in terme van remediërende stappe.

Water bronne bestuur
• Evaluering van bestaande water bronne bestuurs praktyke.
• Aanbevelings vir geïntegreerde bestuurs praktyke, insluitend die rol van sanitasie, in terme van volhoubare gebruik van water bronne.
• Evaluering van die rol van grondwater in die omgewing, spesifiek met betrekking tot Omgewings Impak Studies.
• Ontwikkeling en saamstelling van water bronne bestuurstplanne.

Dynamic Water Resources Management strewe in alles om aan God die eer te bring en bied aan alle kliënte ’n eerlike diens, waar die belang van grondwater eerste gestel word in ooreenstemming met ons God-gegewe opdrag om oor Sy skepping te heers.

Vir verdere inligting kontak Otto van Vuuren by grondwater@ gmail.com

TERUG